Geskryf deur: Marichke Pucjlowski 2 min

“Boss’s Day”: Erkenning van uitsonderlike leierskap

Wat is ‘n baas?
Die woordeboek beskryf 'n baas as die eienaar of besitter van iets. Die hoof wat oor iemand aangestel is, in ‘n gesagsposisie is of as iemand wat iets beter as ander kan doen. Hulle bied rigting en ondersteuning wat nodig is vir persoonlike en professionele groei.

As ‘n “kinderjoernalis” van ‘n laerskool, wat nie baie kennis van die werksplek het nie, sal ek sê ons hoof, juffrou Gerber, is die baas van Randhart.

Ek het so ’n bietjie tuis by my familielede gaan aanklop wat vir base werk, sowel as by die wat self base is, om meer uit te vind oor wat hulle dink ‘n baas is en wat so ‘n persoon moet doen of nie doen nie.

Daar was ‘n redelike klomp verskillende opinies. Van die wat dink hulle base is wonderlik, vriendelik, betroubaar, dra hulle werkers se belange op die hart, inspireer en motiveer hulle.

Dan was daar die wat steen en been gekla het oor hoe hulle base nie weet wat hulle doen nie. Van hulle is oortuig hulle base het hulle posisie gekoop of is nie gekwalifiseerd genoeg vir die werk nie. Van hulle is eenvoudig net aaklig! Volgens my oom is daar regtig base soos daai wat jy in die grootmensfliek “Horrible Bosses” kry.

Hierdie week was baasdag en dit het aan ons ‘n geleentheid gegee om wonderlike base soos ons hoof, juffrou Gerber, te vier.

Hierdie spesiale dag, wat jaarliks op 16 Oktober gevier word, bied 'n geleentheid vir werknemers om die harde werk, toewyding en leierskap van hul base te erken.

Waar kom baasdag vandaan en hoekom vier ons dit?
Die eerste baasdag is in die vroeë 1960's in die Verenigde State begin deur Patricia Bays Haroski, wat as 'n sekretaresse vir haar pa gewerk het. Patricia wou haar pa, wat toevallig ook haar baas was, vereer deur ’n spesiale dag vir base aan te wys. Sy het 16 Oktober, wat haar pa se verjaardag was, as die datum vir hierdie viering gekies. Haar doel was om die verhouding tussen werknemers en hul toesighouers te verbeter deur waardering vir hul leiding en ondersteuning te toon.

Die Ranties sê aan ons hoof, juffrou Gerber, en al die base “Happy Boss’s Day”! Julle harde werk en toewyding word opreg waardeer.

Aan ons Rantieleerders – die toekomstige base van môre... Onthou dat 'n goeie baas nie net iemand in beheer is nie, maar 'n motiveerder, inspireerder, ondersteuner en rolmodel wat ons help om te groei en sukses te behaal. “Be that boss!”

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.