Op ’n hartseer maar vreugdevolle dag, het die Randhartfamilie saamgekom om afskeid te neem van ons geliefde hoof, juffrou Gerber. Na jare van toewyding en leiding gaan sy en haar man, oom Dalton (soos ons hom ken), nuwe avontuurpaadjies loop.
Juffrou Gerber het braaf deur die erewag, wat die leerlingraad vir haar gestaan het, op haar gunstelingliedjie “Rise” van Calum Scott gestap. Dit was ’n voorreg om vir ’n laaste keer juffrou Gerber se trots op haar gesig te kon sien toe die Rakkers se trompoppies, Randhart se pom-pom-meisies en die Randrefrein vir haar opgetree het. Juffrou Kichenbrand, die hoofleiers (Lezé en Conner) en twee bekkige graad 2-leerders (Cayla en Alexander) kon net met lof praat en getuig oor die impak wat juffrou Gerber op soveel kinders en mense se lewens kon maak. Dit was duidelik dat juffrou Gerber nie net ons skool bestuur het nie, maar sy het ook ons harte aangeraak. Sy het ons die waarde van harde werk, respek en spanwerk geleer. Gedurende haar tyd hier het sy ons voorberei vir die toekoms, nie net akademies nie, maar ook as mense.
Ek kon net deur die houtdeure van die saal na die spogfunksie loer wat vir haar voorberei is, waar sy die aand saam met haar familie, onderwysers, die beheerliggaam en individue, wat ’n blywende impak op haar lewe gehad het, behoorlik afskeid kon neem. Dit was duidelik dat die funksie met baie liefde en styl voorberei was, net soos ons juffrou Gerber altyd sal onthou.
Met ’n traan in ons oë en ’n glimlag in ons hart, het ons van ’n buitengewone vrou afskeid geneem. Mag haar nuwe reis vol voorspoed en geluk wees en mag sy weet dat sy vir altyd deel van die Randhartfamilie sal wees.
Dankie juffrou Gerber, vir alles wat Juffrou vir ons gedoen het. Ons gaan Juffrou mis, maar ons is reg om met selfvertroue die toekoms in te gaan.