Op 31 Januarie 2024 het hierdie jaar klaar vir Laerskool Randhart met ’n paar verrassings begin. Vir die eerste keer in 50 jaar het Laerskool Randhart die Top 6-aflosbyeenkoms vir laerskole aangebied. ’n Warm somersdag, met die reuk van gebraaide boerewors, ’n pawiljoen vol ouers en ondersteuners - so het ons hier by Laerskool Randhart geskiedenis gemaak.
Hierdie besonderse geleentheid het die harte van leerders, onderwysers en ouers van trots en vreugde laat bars.
Daar was reeds vir weke lank uitgesien na hierdie byeenkoms op eie bodem. Die deelnemende skole, Laerskool Helderkruin, Laerskool Impala, Laerskool Bryanston Parallel Medium, Laerskool Baanbreker en Laerskool Louis Leipoldt, was almal baie opgewonde oor hierdie groot dag. Die aflosbyeenkoms was ’n viering van die verlede, hede en toekoms van ons hier by Laerskool Randhart. Dit was ’n geleentheid waar leerders van alle grade saamgekom het om ’n gesamentlike prestasie te vier.
Die byeenkoms het nie net die leerders se prestasie beklemtoon nie, maar ook die toewyding en harde werk van die onderwysers en die ondersteuning van die ouers.
Laerskool Randhart het drie trofeë ingepalm vir die beste dogterspan, beste seunspan en algehele wenners. Julle kan sowaar trotse Ranties wees!