Geskryf deur: Wernich van Niekerk 1 min

Wow Kerssangdiens 2024

Op 28 November 2024 hou Laerskool Randhart ’n feestelike kerssangdiens wat beloof om ’n spesiale geleentheid vir die hele gemeenskap te wees. Pastoor Jacques en sy vrou, Gail Steenberg, het die diens gereël om die Randhartgemeenskap vir ’n aand van samesang en samehorigheid byeen te bring. Die doel is om die ware betekenis van Kersfees te vier en om, soos Pastoor Jacques dit stel, “die Here se naam groot te maak.”

Dié aand word nog meer spesiaal met die teenwoordigheid van Willem Engelbrecht, broer van die bekende sanger, Jo Black, wat ’n kersboodskap sal kom deel. Na sy boodskap kan almal saam sing en die vreugde van die seisoen ervaar. Een van die hoogtepunte is dat die snoepie vir heerlike verversings oop sal wees, sodat ouers en kinders iets te ete kan geniet terwyl hulle aan die diens deelneem.

Die kerssangdiens sal op die hoofpaviljoen by Laerskool Randhart plaasvind en almal is welkom om dit by te woon. Ouers word aangemoedig om komberse saam te bring, sodat die kinders gemaklik voor die verhoog kan sit, waar hulle ook kan saam sing, dans en die aand geniet. Die kinders se opgewondenheid en vrolikheid dra by tot die feestelike atmosfeer en is dikwels genoeg om die ouers ook te laat glimlag en saamsing.

Hierdie jaar se diens verskil van vorige jare aangesien dit buite gehou word, anders as die tradisionele opstelling in die ouditorium by die Lewensentrum. Pastoor Jacques het verduidelik dat die buitelugomgewing die ervaring nog meer spesiaal maak en dat die nuwe spreker bydra tot die vars en unieke gevoel van elke jaar se kerssangdiens.

“Ons het soveel om vir Jesus dankie te sê,” sê pastoor Jacques. “Al sing ons jaar na jaar dieselfde liedjies, is daar altyd iets nuuts om voor dankbaar te wees – of dit nou is wat Jesus vir ons gesinne, skole of gemeenskap beteken.”

Met opwinding wat opbou, nooi pastoor Jacques en Gail almal uit om hierdie spesiale aand saam met hulle by Laerskool Randhart te kom geniet.

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.