Die Kiewiet- en Randrefreinkoorlede het hard geoefen om hul stemmetjies kristalhelder te hê vir die Super 12-kooroptrede wat op 26 April by Doxa Deo Centurion plaasgevind het.
Met tannie Christa as inspirerende dirigent en tannie Anna se betowerende begeleiding, het die koorlede met vrolike gesiggies en nagtegaalstemmetjies hulself goed van hul taak gekwyt. Die Kiewietkoor het met 90+% Cum Laude weggeloop en die Randrefreinkoor het 84% Goud behaal.
As mens vra wat die gunstelingliedjie is, sê almal uit een mond "Bloubergstrand se sonsak". Ek is seker Kurt Darren sou ook van ons Ranties se weergawe gehou het! Volgens al die koorlede dra tannie Christa die titel van die mooiste nagtegaalstem.
Na 'n harde kwartaal gaan die stemmetjies vir eers nou 'n blaaskans neem en sal na die vakansie weer wegspring om vir die volgende kompetisie te begin oefen.
En op ’n laaste hoë noot... Dankie Kiewiete- en Randrefreinkoorlede dat jul die Ranties se naam so hoog gehou het!