Geskryf deur: Clarindie le Roux 3 min

Nuwe jaar...
nuwe ek...

Op 31 Desember 2024 staan ek saam met duisende vakansiegangers op Hartenbos se strand in afwagting vir die jaarlikse vuurwerkvertoning. 10... 9... 8... 7... 6... 5... 4... 3... 2... 1... BOOM! Hoendervleis-oomblikke! Vir 15 minute snak almal na hul asems en aanskou die mooiste vuurwerke. ‘n Groot opgewondenheid heers onder die skares, jy kan dit tasbaar aanvoel. Saam gaan ons 2025 binne.

Dit het my ‘n bietjie verder laat dink oor ons almal se nuwejaarsvoornemens. Ons skop elke jaar af, soos die vuurwerke wat wêreldwyd afgeskiet word, met baie entoesiasme en ywer. Net soos die vuurwerke, brand ons liggie van nuwejaarsvoornemens nie baie lank nie... Maar ek sê dat dit nie so hoef te wees nie.

Miskien moet ons ophou praat van ‘n nuwe jaar, ‘n nuwe jy en eerder begin praat van ‘n nuwe dag, ‘n nuwe jy. Dan hoef jy nie ‘n hele jaar te wag om daardie nuwe stokperdjie aan te pak of om daardie ekstra paar spekkies af te skud nie. Jy hoef dan ook net van gister te vergeet, nie die hele jaar nie. My oupa sê altyd: “Jy eet die olifant op deur een klein happie op ‘n slag te vat. Geen mens kan ‘n hele olifant in een dag opvreet nie.”

Haal vir ‘n wyle jou oë van die lugkastele af en fokus op die klein trappies wat jy moet klim om daar uit te kom. Moenie te veel aanpak nie en as jy een of twee trappies mis, vergeet daarvan en fokus net op die volgende trappie. Staan betyds op, maak jou bed op, maak jou kamer skoon, doen jou huiswerk getrou, pak jou tas in die aand, oefen hard, probeer ‘n nuwe aktiwiteit aanpak, ens. Dis alles klein takies, of klein happies, wat verseker dat die jaar nie soos ‘n olifant in die pad voor jou gaan lê nie.

Ek wens vir al my mede-Ranties ‘n fantastiese 2025 toe. Mag elke oggend vir julle nuwe vuurwerke van verwondering bring. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.