Geskryf deur: Olivia Ford 1 min

Fliekresensie – Arthur the King (2024)

Trek maar die boks tissues nader as jy die fliek wil kyk… jy gaan dit nodig hê!

Die fliek Arthur the King is op ‘n ware verhaal gebaseer op Mikael Lindnord, ‘n avontuurlustige atleet met ‘n passie vir avontuurwedlope. Dié wedlope is nie vir sissies nie! Dit toets mens op alle vlakke: fiksheid, deursettingsvermoë, leierskap, aanpasbaarheid, spanwerk en so kan ek aangaan. Dit strek oor vyf tot tien dae en nagte oor afgeleë terrein. Atlete neem deel in spanne van vier en moet self navigeer en hul pad na die eindstreep vind. Daar is voorgestelde roetes, maar atlete kan hiervan afwyk. Die doel is om te wen!

Die hoofkarakter, Michael Light (Mikael Lindnord gespeel deur Mark Wahlberg), gaan deur ‘n persoonlike reis. Hy móét eenvoudig weer deelneem en dié keer die wedloop wen! Maar daar wag iets meer verrykend vir hom. Iets wat sy lewe verander.

Arthur (Ukai in die ware verhaal) is ‘n hond sonder heenkome – verwaarloos en ernstig siek. Michael voer hom frikkadelle by die eerste russtasie op die roete en net daar besluit Arthur dat hy nie Michael se sy sal verlaat nie. Hy word ‘n integrale lid van hul span. Michael besluit om Arthur te laat saamwedloop, ondanks die ekstra moeite en risiko's. Hierdie besluit lei tot 'n reeks opwindende en emosionele oomblikke wat die hele span se vasberadenheid en samewerking toets.

Die storie is boeiend. Dit wys hoe vriendskap en moed 'n verskil kan maak in die moeilikste tye. Die avontuurwedloop is vol spanning en aksie wat my op die punt van my stoel laat sit het. Arthur, die hond, is so oulik en het my hart gesteel. Sy lojaliteit en die manier waarop hy die span help, was regtig inspirerend.

Wie sou kon raai dat gewone mense helde kan wees. Die lewensles van die storie: behou jou menslikheid ten spyte van alles! Arthur the King – ‘n moet-sien-fliek! Ek beveel dit aan vir oud en jonk… Onthou net jou tissues!



© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.