Geskryf deur: Redaksie 9 min leesstuk

My 67 minute vir liefdadigheid…

Op 18 Julie vier ons oud-president Nelson Mandela se verjaarsdag. Ter nagedagtenis aan die opofferings wat president Mandela in sy lewe gemaak het vir die mense van Suid-Afrika se stryd om vrede en vryheid, word daar op ‘n globale skaal 67 minute geskenk vir liefdadigheid – 1 jaar vir elke jaar wat president Mandela diens vir Suid-Afrika gedoen het. Selfs ons joernaliste het dit goed gedink om 67 minute van hul tyd op te offer vir Mandeladag.

Geskryf deur: Ané Potgieter

Wil jy ‘n glimlag op jou ouers se gesigte sien? Deur net dalk die kombuis skoon te maak, kan jy jou ma, pa, oupa of ouma se dag maak as hulle ‘n slegte dag het. Al is julle partykeer onder moeilike omstandighede of dinge gaan rof by die huis, probeer altyd om ander te help, want as jy die regte ding doen en in die huis help skoonmaak, sal die ander jou volg en jy sal ook goed voel oor jouself en dink ek het vandag ‘n DOEL gehad. Een ding wat ek vir jou wel kan sê is om altyd behulpsaam in die huis te wees en die mense wat vir jou hulp vra te help.

Geskryf deur: Jayme Martin

As jy jou ouers trots wil maak, sal jy jou beste probeer om die huis ‘n bietjie skoon te maak. Sodra jy sien dat jou ma in ‘n slegte bui is, gryp daai besem en begin om te vee! Wanneer jy jou kant in die huis bring, sal jou jonger boeties of sussies net soos jy wil wees! Wees die skoonmakertjie in jou huis en wees die voorbeeld vir jou jonger boetie of sussie. Help om die huis! Daar is een ding wat ek vir jou kan sê en dit is dat jy altyd behulpsaam moet wees!

Geskryf deur: Ava Allen

Mandeladag moedig mense aan om 67 minute van hul tyd te gebruik om ‘n liefdadigheidsorganisasie te ondersteun of in hul gemeenskap te dien. Die 67 minute verteenwoordig die jare wat die oud-president vir menseregte geveg het. Toe Juffrou vra wat ons met 67 minute gaan doen, toe weet ek dadelik waar my hart lê: Ek gaan iets vir diere doen! Ons gesin het op die oomblik ‘n pleeghond wat deur Spaniel Welfare SA in ons huis geplaas is om gerehabiliteer te moet word. Ek wou my 67 minute gebruik om sy lewe beter te maak. Ek het besluit om hom te bad, sodat hy die ou lelike wêreld, wat hy geken het, kon af was en reg voel om te begin soek vir ‘n nuwe, liefdevolle huis. Die rede hoekom dit vir my so belangrik is om honde te help, is omdat hulle nie ‘n stem van hulle eie het nie en dat hulle ons rêrig nodig het om mooi na hulle te kyk en seker te maak die Here se skeppings word nie seergemaak nie. Ek wil rêrig mense aanmoedig om 67 minute (of meer) te gee, want daar is so baie honde en ander diere wie se lewe in daardie paar minute beter gemaak kan word. En wie kan nou kwaad of hartseer wees as jy ‘n hond se stertjie laat waai?

Geskryf deur: Ellené Anderson

Ek het vir my 67 minute my ma gehelp hekel. Ja… julle het reg gelees, gehekel! Dit het wel stadig gegaan, want ek sukkel nog so ‘n bietjie hier en daar met ’n stekie. ’n “Pro” is ek nog glad nie.

Maar dis dan winter! En baie koud. Veral na die sneeu wat ons gehad het.

So ek het besluit om die minderbevoorregte mense te help warm hou. En daar is niks beter as ’n lekker, warm wolkombersie nie. Die kombersies neem so ‘n bietjie langer om te hekel, maar jy kan maklik ’n mussie of selfs ’n serpie in 67 minute hekel.

Ek sal ander graag wil inspireer om saam met my sulke projekte aan te pak. As jy nie kan hekel of brei nie, leer dan. Nie net kan jy ’n nuwe vaardigheid aanleer nie, maar as jy dit bemeester het, kan jy mense help warm hou. So kan ons saam stekie vir stekie ’n verskil maak.

Geskryf deur: Marichke Pucjlowski

Drie maande ná die Covid-inperking, in Julie 2020, het iets baie hartseer met ons huishulp, Gocki, gebeur. Haar dogter het in ‘n verskriklike motorongeluk gesterf. Dit het daartoe gelei dat Gocki haar 5-jarige kleinseun, wat nou nie meer ‘n mamma het nie, moet grootmaak. Dit was ‘n ongelooflike moeilike tydperk vir albei van hulle en is steeds. Ons is baie lief vir Gocki wat al vir 22 jaar vir ons huisgesin werk en het daarom besluit om te help om Kgotso te versorg. Gocki word ouer en sy sukkel om Kgotso te help met sy skoolwerk. Daarom het ek en my broer gedink ons kan hom bystaan met sy skoolwerk, soos wiskunde en lees. Ons speel ook baie met hom en maak seker hy weet ons is lief vir hom en dat hy deel is van ons familie. Ek glo in en ondersteun Mandeladag en hoe dit mense aanmoedig om iets goed te doen en ‘n verskil in iemand anders se lewe te maak. Maar ek dink ons moet dit nie net een keer per jaar vir 67 minute doen nie, maar gedurig. Dit moet deel van ons lewens wees om goed te doen. Om heeltyd ‘n verskil te maak. Selfs al kan jy nie geld gee nie, kan jy steeds iets van jouself gee, soos jou tyd, omgee en liefde. Kom ons gee liewers meer van ons tyd, omgee en liefde op ‘n meer gereelde basis as net een keer per jaar.

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.